skip to Main Content

US Bewaringsekologie en -Entomologie neem deel aan IUCN se Streeks- Bewaringsforums, waaronder die eerste Afrikageleentheid ooit

Die Universiteit Stellenbosch is onlangs, in hulle hoedanigheid as ʼn lid van die IUCN-akademie, by twee streeksforums van die Internasionale Unie vir Natuurbewaring (IUCN – International Union for Conservation of Nature) verteenwoordig. Die Akademie, wat in September 2021 bekendgestel is, bestaan uit ʼn uitgesoekte groep van sewe akademiese vennote verteenwoordigend van elke vasteland wat die IUCN ondersteun in die ontwikkeling van innoverende en kwalitatiewe opleiding op die groter gebied van natuurbewaring, met ʼn multidissiplinêre en geïntegreerde benadering tot die onderwerp. Die Akademie is een van die IUCN se inisiatiewe om die mandaat en bydraes van biodiversiteitswetenskap binne die IUCN te versterk. Die Universiteit Stellenbosch, verteenwoordig deur uitgelese professor Karen Esler (Departement Bewaringsekologie en -Entomologie), het saam met verteenwoordigers van die voorste universiteite wêreldwyd deelgeneem – Kalifornië Universiteit Berkley (VSA), Cambridge Universiteit (Brittanje), Universiteit van Campinas (Brasilië), Tsinghua Universiteit (China), ETH Zurich (Switzerland) en Australië Nasionale Universiteit (Australië).

Die IUCN het sy eerste Afrikaforum teen die einde van Junie 2024 in Kenia gehou. Hierdie histories beduidende vergadering was die eerste keer dat Afrika-lidstate van die IUCN, nieregeringsorganisasies (NRO’s) en navorsingsinstellings gesamentlik byeen gekom het om hulle visie vir natuurbewaring te deel en om ʼn eenstemmige agenda voor die 2025 IUCN Wêreldbewaringskongres in Abu Dhabi op te stel. Tot op hierdie stadium was ʼn verenigde Afrikastem oor die wêreldwye bewaringsagenda nie moontlik nie. Die streeksforum het die eerste geleentheid gebied vir Afrika om samewerking te bewerkstellig, belanghebberdialoog aan te voor en om die wêreldwye natuurbewaringsagenda te beïnvloed en op te stel. Dit was ʼn beduidende stap vir ons kwesbare, dog biodiversiteitsryke vasteland om die noord-suid-wanbalanse in bewaringsagendas reg te stel. Die voormalige Suid-Afrikaanse minister van die omgewing en voormalige president van die IUCN, Vali Moosa, was ook teenwoordig. Dit is van belang dat hy gepraat het oor hoe nodig dit is dat ons vasteland sy afhanklikheid van buitelandse finansiering moet verminder en die nasionale bydraes tot bewaringsinstellings en -owerhede moet verhoog. Hy het erkenning verleen aan Afrika se kosbare biodiversiteit en ryke menslike hulpbronne (waaronder vooraanstaande bewaringsgesindes) as bates in hierdie poging om beheer terug te kry. Finansiering was ʼn herhalende tema deur die hele vergadering, net soos gesamentlike oplossings vir mense en die natuur; gelykheid en geregtigheid, met inbegrip van meer deelname deur plaaslike en inheemse volke; klimaatsverandering en die verband met volhoubare en herstellende landbou. Van belang vir ons instelling, waar bewaringsekologie binne die Fakulteit AgriWetenskappe gehuisves word, was die sessie oor “Volhoubare Landbou en Ekostelselherstel deur Natuurgebaseerde Oplossings in Afrika”. Tradisioneel het die IUCN en die Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO) hulle aparte agendas behou, maar dit is baie duidelik en belangrik dat hierdie sektore nou ʼn opdrag het om saam te staan, om oplossings vir mense en vir biodiversiteit te verseker.

Die tweede vergadering is vroeg in September 2024, in Bangkok, Thailand, gehou. Dit was die 8ste IUCN Asië Streeks- Bewaringsforum, waar ongeveer 600 bewaringsleiers onder die tema “Die Herverbeelding van Bewaring in Asië: ʼn Natuurpositiewe Toekoms” byeengebring is. Net soos by die geleentheid in Afrika, het die Akademie ʼn driedaagse toegewyde ‘Leersone’-geleentheid aangebied, wat ontwerp is om kennis en IUCN-hulpmiddele te deel, en om nuwe denke oor natuur- en biodiversiteitsbewaring aan te spoor. By albei leersones het prof Esler ʼn praatjie oor “Hoe groen ruimtes ons welstand beïnvloed” gelewer, wat baie goed ontvang is.

Die IUCN se Streeks- Bewaringsforums word elke vier jaar regoor die streke van die wêreld gehou en help om ʼn jaarlange proses aan te voor vir IUCN-lede om hulle mosies oor belangrike bewaringsprioriteite vir die onderskeie streke in te dien. Hierdie mosies word dan na die IUCN se Wêreldkongres (ʼn vierjaarlikse statutêre IUCN-geleentheid) geneem, waar dit gedeel, gedebatteer en aanvaar word, wat die strategiese visie van die Unie rig. Die volgende IUCN Wêreldkongres sal in Oktober 2025 in Abu Dhabi, Verenigde Arabiese Emirate, gehou word.

Foto: Die leersone het baie aandag in Bangkok getrek; die Universiteit Stellenbosch se bydrae is tydens die afsluitingseremonie van die Asië Streeks- Bewaringsforum erken.

Voorberei deur Karen Esler, kje@sun.ac.za/a>

Back To Top