skip to Main Content

Departement Landbou-ekonomie maak skoonskip by AEASA

Die Departement Landbou-ekonomie van die Universiteit Stellenbosch het merkwaardige bydraes gelewer by die 2024 konferensie van die Landbou-ekonomievereniging van Suid-Afrika (AEASA) wat van 9 tot 11 September in Gqeberha aangebied is. Die Departement het met vyf van die elf moontlike pryse weggeloop.

Mkhanyisi Tyelo het die prys vir die Beste Magistertesis ontvang vir sy werk oor “Die impak van veeverbetering op die Suid-Afrikaanse ekonomie: ʼn Beleidsontleding met behulp van ʼn dinamiese berekenbare algemene-ekwilibriummodel”. Dr Cecilia Punt, senior dosent in die Departement, was sy studieleier. Sy navorsing bied betekenisvolle insigte in hoe die verbetering van die beleid op vee die toekoms van Suid-Afrika se landbou-ekonomie kan vorm.

Die Departement het ook eerbetone vir navorsing wat in die voorste professionele vaktydskrifte gepubliseer is, ontvang. Marlise Piek (Buro vir Ekonomiese Navorsing), Dieter von Fintel (Departement Ekonomie, US), en Johann Kirsten (Buro vir Ekonomiese Navorsing en professor in die Departement) het die tweede plek behaal met hulle referaat, “Impak van minimum lone in landbou op werkersvloei in Suid-Afrika,” wat in die South African Journal of Economics gepubliseer is. In Agrekon is die Departement se krag verder beklemtoon, met Kandas Cloete (Buro vir Voedsel- en Landboubeleid [BFAP] en navorsingsgenoot in die Departement), Anke Horing, en Siphe Zantsi (Landbounavorsingsraad) wat die tweede plek behaal het vir “Modellering van die uittog van Suid-Afrikaanse produsente uit kommersiële landbouproduksie – ʼn agentgebaseerde model”. Die eerste prys vir die beste referaat in Agrekon is toegeken aan Jana-Mart van der Merwe (voormalige student), Nick Vink (emeritusprofessor in die Departement), en Kandas Cloete (BFAP en navorsingsgenoot in die Departement) vir hulle referaat oor “Die mededingendheid van Suid-Afrikaanse tafeldruiwe-uitvoere op die Europese markte: Bedreiging deur Peru en Chili”. Hierdie navorsingspryse weerspieël nie slegs die Departement se uitnemendheid in navorsing nie, maar vestig ook die aandag op die Departement se medewerkende navorsingspogings.

AEASA het ook die beste navorsing wat by die konferensie aangebied is, beloon. Vir die plakkaat “Die Evaluering van KI se Vermoë om Akkurate Klimaatsinligting van Afleiers te Onderskei”, het Luther Chipembere die tweede plek in die kategorie vir Beste Plakkaat ingepalm. Merkwaardig genoeg was Luther die alleenouteur van hierdie werk, wat ʼn uitsonderlike prestasie is vir ʼn student wat maar onlangs sy magister in landbou-ekonomie verwerf het.

Laastens vereer AEASA ook die beste finalejaarstudente uit alle Suid-Afrikaanse universiteite wat grade in landbou-ekonomie aanbied. Vanjaar het Christien Langenhoven daardie prys ontvang. Pryse soos hierdie getuig van die Vereniging se verbintenis tot die koestering van jong talent.

Die Departement se bydraes onderstreep die deurslaggewende rol wat dit in die vorming van die landbou-ekonomie speel en demonstreer sy voortgesette verbintenis tot impakvolle navorsing.

Van L na R: Melissa van der Merwe (voormalige president van AEASA en senior dosent aan die US), Johann Kirsten (BEN en professor aan die US), Luther Chipembere (nagraadse student), André Jooste (professor aan die US), Christien Langenhoven (nagraadse student), Nick Vink (emeritusprofessor aan die US), en Khwezi Mbongwe (nagraadse student)

Back To Top