Die sewende uitgawe van Finance and Farm Management, wat dikwels die bedryf se ‘blou bybel’ van plaasbestuur genoem word, bly steeds ʼn hoeksteen van landbou-onderwys. Met die ondersteuning van Standard Bank, wat lank reeds tot landbou-onderwys verbind is, speel die boek ʼn deurslaggewende rol in die voorbereiding van studente en opkomende boere vir die kompleksiteite van moderne landbou. Die jongste uitgawe van die boek, onder redaksie van prof André Louw en dr Mariette Geyser (Noordwes-Universiteit), bevat belangrike bydraes deur die akademici van die Universiteit Stellenbosch, dr Willem Hoffmann, prof Jooste, en dr Melissa van der Merwe.
Dr Hoffmann en prof Jooste het twee nuwe hoofstukke “Project Management within the Farming Business” en “Legislation in the South African Context” onderskeidelik bygedra. Prof Jooste het ook bygedra tot die bywerk van “Agricultural Finance and Macroeconomic Variables” en “Entering African and Other International Markets”. Dr Van der Merwe was verantwoordelik vir die bywerk van “Understanding Value and Supply Chains in Agriculture” en “Production Economic Principles in Planning of the Farm Business”. Sy het ook vir dr Geyser bygestaan met die bywerk van die hoofstukke oor “Farm Business Financials” en “Financial Analysis of Farming Results”. Die betrokkenheid van die akademici van die Universiteit Stellenbosch by ʼn derde van die boek beklemtoon die instelling se leierskap in landbou-onderwys, wat sy rol as ʼn kernbydraer tot die bevordering van die sektor versterk.
Dr Van der Merwe het ook aan ʼn paneelbespreking deelgeneem tydens die boek se bekendstelling, wat op 1 Oktober 2024 deur Standard Bank in Johannesburg aangebied is. Sy het die belangrike rol uitgelig wat die boek speel in die illustrasie van die belangrikheid van die landbousektor vir die ekonomie en die talle interessante loopbaangeleenthede wat bestaan, nie slegs op die plaas nie, maar ook verder as die plaashek. Sy het Standard Bank ook aangemoedig om, saam met hulle universiteitsvennote, innoverende oplossings soos kort video’s en greepuitsendings te ontwikkel, om GenZ se betrokkenheid by die materiaal te verbeter.
Van L na R: Prof André Jooste (DH Departement Landbou-ekonomie), dr Melissa van der Merwe (senior dosent in Landbou-ekonomie), en dr Willem Hoffman (senior dosent in Landbou-ekonomie)