Die Suid-Afrikaanse Druiwe- en Wynnavorsingsinstituut (SAGWRI) aan die Universiteit Stellenbosch en die Gesamentlike Navorsingseenheid Wetenskappe vir Wynkunde (SPO) in Montpellier, Frankryk, stig die MICROWISE Internasionale Geassosieerde Laboratorium om die wynbedryf te help om die huidige wêreldkrisis te oorkom. Daar word beraam dat wynmaak sowat 10 000 jaar gelede in die Nabye-Ooste ontstaan het en stadig na Wes-Europa uitgebrei het voordat dit alle bewoonde kontinente bereik het. Oor die millennia het dit talle krisisse in die gesig gestaar, insluitend ontelbare oorloë, die filloksera-pandemies en die Amerikaanse verbod, om 'n paar te noem, maar hierdie veerkragtige bedryf het daarin geslaag om almal te oorkom, danksy die bedryf se bereidwilligheid om herontdek te word. Trouens, alhoewel wynmaak diep gewortel is in tradisie, is dit een van die mees nagevorsde voedselverwante industrieë, veral oor die afgelope 170 jaar. Nietemin staar hierdie veerkragtige bedryf tans een van sy ernstigste krisisse in die gesig wat aangevuur word deur verskeie faktore, insluitend klimaatsverandering, internasionale mededinging, die COVID-pandemie, en sosiale veranderinge soos gesondheidskwessies, veranderinge in verbruikers se drinkgewoontes en smaak, sowel as wantroue teenoor die produksieproses (bv. die gebruik van bymiddels).
SAGWRI en SPO het 'n lang geskiedenis van navorsing in wynmikrobiologie (asook in ander verwante velde). Hulle deel 'n gemeenskaplike visie om die huidige uitdagings wat die wynsektor ervaar, aan te spreek en bied aanvullende kundigheid, navorsingsplatforms en fasiliteite. Hulle glo dat wynmikroörganismes die wynbedryf kan help om die huidige krisis te oorkom. MICROWISE poog om die mikrobiese biodiversiteit wat met die breër wynomgewing geassosieer word in reaksie op klimaatsverandering te verduidelik, om hul interaksies te karakteriseer en om te verstaan hoe hul biochemiese, metaboliese en ensiematiese potensiaal gebruik kan word om nuwe volhoubare wynmaakpraktyke voor te stel. Die doelwitte sal bereik word deur drie benaderings te volg: ʼn ekologiese, fisiologiese en biochemiese benadering.
MICROWISE sal voortbou op 'n baie vrugtevolle samewerking wat tien jaar gelede begin is en wat reeds tien nagraadse studente en nadoktorale genote bevoordeel het en nege wetenskaplike artikels asook ander navorsingsuitsette gegenereer het. MICROWISE sal 'n laboratorium sonder mure en sonder 'n regspersoonlikheid wees. Dit sal 'n raamwerk bied vir hoëvlak wetenskaplike samewerking oor die bogenoemde gesamentlike navorsingsprogram. Sleutelinisiatiewe sal die organisering van gesamentlike wetenskaplike geleenthede insluit, die ontwikkeling van samewerkende navorsingsprogramme (veral om gesamentlik op befondsingsoproepe te reageer), en die fasilitering van die uitruil van deskundigheid, toerusting, praktiese kennis, protokolle, data en idees tussen die twee spanne. Dit sal ook die mobiliteit van nagraadse studente en personeel fasiliteer, deur kort navorsingsinternskappe en formele mede-studieleiding met of sonder ʼn gesamentlike studieleiding-ooreenkoms (‘cotutelle’-ooreenkoms).
Ons vertrou dat hierdie opwindende navorsingsinisiatief nie net die wynbedryf sal bevoordeel nie, maar ook die deelnemende studente, akademici en ondersteuningspersoneel.
Vir meer inligting, kontak asseblief die koördineerders: Prof Benoit Divol by SAGWRI (divol@sun.ac.za) en Dr Carole Camarasa by SPO (carole.camarasa@inrae.fr).