Die Departement Wingerd- en Wynkunde het in samewerking met Gift of the Givers Stigting ʼn funksie ter viering van Erfenismaand in die US Biblioteek Ouditorium gehou. Dr Imtiaz Sooliman, die stigter, het as hoofspreker opgetree. Gift of the Givers is die grootste rampreaksie organisasie in Afrika en ʼn organisasie van nasionale sowel as internasionale omvang.
Die tema vir hierdie jaar se Erfenismaandviering was Inklusiwiteit en die Gift of the Givers se deelname was gepas, aangesien die etos van die organisasie onvoorwaardelike diens aan alle mense omvat – ongeag ras, geloof, kleur, klas, politieke oortuiging of geografieseligging. Die organisasie is in 1992 deur Dr Sooliman, ʼn mediese dokter van beroep, gestig en het ʼn wêreldwye voetspoor in meer as 45 lande, insluitend Suid-Afrika en ander Afrika lande.
Sedert die ontstaan van die organisasie is lewensnoodsaaklike middele en hulp op grondvlak ter waarde van ongeveer R4.5 biljoen aan hierdie 45 lande gelewer. Hunger Alleviation is ʼn sleutelportefeulje van die organisasie en ʼn noodsaaklike diens aan die mees kwesbare en ondervoede gemeenskappe. Verdere besprekings met die stigting word dan ook beoog ten opsigte van hierdie lewensbelangrike aspek, aangesien die belangrike rol wat landboukennis en die landbou-industrie ten opsigte van voedselsekuriteit in die agtergeblewe en gemarginaliseerde gemeenskappe kan speel, erken word.