
Studie oor regeneratiewe wynbou pak bul by die horings
- Nuwe studie onder leiding van die Universiteit Stellenbosch toets of die gebruik van beeste en dekgewasse volhoubare wynbou kan bevorder.
- South Africa Wine befonds die studie, wat die bedryf sal help om beter besluite vir die toekoms te neem.
- Hierdie toonaangewende proefneming in regeneratiewe wingerdbou vind by Hartenberg Wynlandgoed plaas.
In die konteks van die Suid-Afrikaanse Wynberaad vandeesweek, werp ʼn nuwe navorsingsprojek die kollig op hoe die gebruik van beeste in wingerde die sektor kan help om sy toekoms te verseker te midde van verskeie uitdagings.
Die drie jaar lange ReGenWine-projek, een van die mees omvattende wetenskaplike studies tot nog toe om die potensiaal van regeneratiewe wingerdbou in ʼn werklike omgewing te toets, is onlangs van stapel gestuur. Dit word deur ʼn multidissiplinêre span navorsers van die Universiteit Stellenbosch (US) uitgevoer en deur die bedryfsliggaam South Africa Wine befonds. Dit vind hoofsaaklik by die Hartenberg-wynlandgoed aan die buitewyke van Stellenbosch plaas.
Hoewel Hartenberg bekend is vir sy treffende Ankole-beeste met hul groot horings, word kleiner en meer hanteerbare Dexter-beeste in die ReGenWine-studie gebruik. Hulle is meer geskik vir die kompakte uitleg en toestande van wingerde.
“Ons toets die konsep van regeneratiewe wynbou met hierdie studie,” het prof. Melané Vivier, die direkteur van die US se Suid-Afrikaanse Wingerd- en Wynnavorsingsinstituut, en hoof van die projek, gesê. “Ons kyk na hoe om met die natuur saam te werk eerder as daartéén – en of dit meetbare voordele vir wynboere kan inhou.”
Relevante navorsing vir ʼn veranderende bedryf
Die bekendstelling van ReGenWine kom terwyl die Suid-Afrikaanse wynbedryf toenemende druk in die gesig staar om te innoveer in die lig van klimaatsverandering, stygende insetkoste en veranderende verbruikersverwagtinge. By South Africa Wine se beraad op Donderdag 22 Mei 2025 in Stellenbosch sal hierdie uitdagings voorop staan.
“Oral waar ek deesdae gaan, praat mense oor volhoubaarheid,” sê Gerard Martin, South Africa Wine se uitvoerende hoof vir navorsingsontwikkeling en innovasie. “Hulle het vrae oor regeneratiewe boerdery en wat dit vir hul wynmaak en hul besigheid kan beteken. Hierdie studie sal waardevolle insigte oplewer om die bedryf te help om meer ingeligte besluite te neem.”
Diep wortels en progressiewe ambisies
Die hoofproefterrein is Hartenberg, ʼn historiese plaas wat in 1692 gestig is en ʼn voorloper in regeneratiewe wynboerdery geword het.
Die afgelope twee dekades het Hartenberg sy boerderypraktyke geleidelik verander, onder meer deur middel van multispesie-dekgewasse, kompostering en biologiese plaagbeheer. Dié oorgang het in 2017 spoed opgetel toe die plaas vee begin gebruik het om die dekgewasse tussen hul wingerdrye te bewei.
Vroeër vanjaar het Hartenberg die eerste wynlandgoed in Suid-Afrika geword, en slegs die tweede wêreldwyd, wat geverifieer is ingevolge die Ecological Outcome Verification-raamwerk – ʼn bewysgebaseerde standaard waarmee grond- en plantgesondheid gemonitor en verbeter word.
“Toe ons diere ingebring het, het alles verander,” het Wilhelm Joubert, Hartenberg se wingerdboukundige, gesê. “Die grond het weer lewe gekry – erdwurms en miskruiers het teruggekeer, en die grondstruktuur en biodiversiteit het verbeter.”
Model in werkende wingerde getoets
ReGenWine bring streng, multidissiplinêre navorsing na ʼn vinnig groeiende wêreldwye beweging wat egter meer deur praktyk en anekdotes gedryf word as deur wetenskaplike bewyse. Die doel is om vas te stel of regeneratiewe metodes grond- en wingerdgesondheid kan verbeter, wyngehalte kan handhaaf en langtermynvolhoubaarheid kan versterk – sowel ekologies as ekonomies.
Die model kombineer verskeie elemente wat tipies van regeneratiewe wingerdbou is:
- Dekgewasse (hawer en grasse) word tussen wingerdrye geplant om die grond te beskerm, vog te behou, onkruid te onderdruk en biodiversiteit te ondersteun.
- Beeste bewei die dekgewasse ná die oes en voor die wingerd weer begin bod (dié tydsberekening voorkom skade aan die blare en druiwe).
- Hul mis en urine voed die grond, wat die noodsaak vir chemiese kunsmis verminder.
- Die diere sit gewig aan en kan verkoop of vir vleis in die plaas se restaurant gebruik word, wat bykomende inkomste oplewer.
Die proefneming toets of hierdie geïntegreerde benadering grondgesondheid bevorder, wingerdprestasie ondersteun en insetkoste verminder – alles terwyl die kwaliteit van druiwe en wyn minstens gehandhaaf word.
Vyf spanne, een missie
Om die volle impak van regeneratiewe wingerdbou te dek, bring die ReGenWine-projek US-navorsers uit verskillende dissiplines en fakulteite in vyf onderling gekoppelde spanne byeen:
- Grondstelsel – meet koolstofvlakke, mikrobiese aktiwiteit en grondstruktuur om biologiese en fisiese veranderinge te bepaal.
- Van wingerdstok tot wyn – moniteer wingerdstokgroei, druifontwikkeling en sapsamestelling met behulp van veldmetings en afstandswaarneming.
- Dekgewasse en diere – bestudeer vee-integrasie, voerinname, bewegingspatrone en voedingstofsiklusse.
- Ekonomiese en omgewingsirkulariteit – modelleer in- en uitsette in verskillende wingerdopstellings, analiseer opbrengs op belegging, en ontleed lewensiklusimpakte.
- Projek- en kenniskoördinering – effektiewe projekbestuur om te verseker dat data behoorlik gestoor en gedeel word met deelnemers en die breër bedryf.
Fondament vir die toekoms
Die projek bou voort op ʼn voorloper-studie van 2022 tot 2024, en die ReGenWine-span beoog om ʼn robuuste stel bewyse te genereer wat toekomstige besluitneming in die wynbedryf kan ondersteun.
“Ons gaan nie alle vrae eensklaps beantwoord nie,” het Vivier gesê, “maar ons werk daaraan om ʼn model te bied waarop ander kan voortbou – en om ʼn fondament vir innovasie in die toekoms te lê.”
“Dit gaan ook oor posisionering,” het Martin bygevoeg. “Ons wys dat Suid-Afrika nie net globale tendense navolg nie – ons kan wêreldklas-uitkomste lewer wanneer ons saamwerk.”
Mediakontakte:
- Universiteit Stellenbosch: Julia Harper, 072 535 0204, jrs@sun.ac.za
- South Africa Wine: Gerard Martin, 082 814 6657, gerard@sawine.co.za
- Hartenberg Wynlandgoed: Andrea Els, 079 863 9969, wine@hartenberg.co.za