
Prof. Nick Vink ontvang ere-toekenning vir bydrae tot landbou
Die Landboubesigheidskamer van Suid-Afrika (Agbiz) het op 21 November 2024 tydens hul Raadsaandete in Kaapstad hulde gebring aan Professor Nick Vink, Emeritus Professor Landbou Ekonomie, van Stellenbosch Universiteit. Prof. Vink is vereer met ’n ere-toekenning wat sy lewenslange positiewe impak op landbou en landboubesigheid erken.
Oor dekades heen het Prof. Vink ’n blywende invloed gehad op landboubeleid in Suid-Afrika. Sy werk sluit bydraes tot die Kassier-komitee, die Strauss-kommissie, handelsbeleid, verskeie Grondhervormingsbeleidsdokumente, en die Nasionale Ontwikkelingsplan in. Hierdie beleidsraamwerke het ’n belangrike rol gespeel in die rigtinggewende besluite wat Suid-Afrika se landbousektor gevorm het.
Prof. Vink, ’n alumnus van Stellenbosch Universiteit, het sy loopbaan as dosent by die Universiteit van die Noorde (Turfloop) in 1979 begin. Hy het later aangesluit by die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika waar hy vir tien jaar die ekonomiese navorsings- en beleidsnavorsingseenheid bestuur het. In 1996 is hy aangestel as Professor en Voorsitter van die Departement Landbou-ekonomie aan Stellenbosch Universiteit, ’n pos wat hy tot sy aftrede in 2020 beklee het.
Tydens sy 24-jaar lange loopbaan aan Stellenbosch Universiteit het Prof. Vink talle meesters- en doktorale studente gelei. Sy onwrikbare toewyding tot opleiding het ’n nuwe generasie landbou-ekonome toegerus om uit te blink in ’n dinamiese en voortdurend veranderende landbou-omgewing. Baie van sy studente het daarna ’n merkbare impak in besigheid, beleid en akademia gemaak.
Ten spyte van sy aftrede, bly Prof. Vink steeds ’n aktiewe en invloedryke stem in die landbou- en ekonomiese beleidsdiskoers. Hy dien tans op die Direksie van die Suid-Afrikaanse Reserwebank en speel ’n aktiewe rol in verskeie ander organisasies. Tydens sy toespraak by die Agbiz Raadsaandete het hy veral gefokus op die uitdagings en geleenthede vir landboubeleidsvorming in ’n nuwe risiko-omgewing gekenmerk deur verhoogde geopolitieke spanning.
Die Departement Landbou-ekonomie en die Fakulteit AgriWetenskappe is trots op Prof. Vink se merkwaardige bydraes en die nalatenskap wat hy in die Suid-Afrikaanse landbou laat. Ons wens hom opreg geluk met hierdie welverdiende eerbetoon en sien uit na sy voortgesette betrokkenheid by landbou en beleid.