
Help kinders speel-speel leer oor die natuur
Heléne Booyens (Bewaringsekologie-klas van 2014) het vanjaar die eerste titel in ’n reeks natuurboeke vir kinders geskryf en gepubliseer. Boek een gaan oor soogdiere, en het in Engels en Afrikaans uitgekom. Soogdier-safari is ’n feit-en- aktiwiteitboek, met speletjies, blokraaisels, doolhowe en kopkrappers, asook interessante stories oor meer as 70 soogdierspesies – van die kameelperd tot die kleine klaasneusmuis. Heléne vertel:
Waar kom die konsep vandaan?
Ek het voorgraads bewaringsekologie geswot, en onthou nog hoe ’n dosent een keer vir die klas ’n vasvra gegee het: Hoeveel wildsbokke kan jy identifiseer? Gemsbok, Kudu, Blesbok . . . Dis nog maklik. Maar hoeveel van die duikers ken jy? Watter een is die njala en watter een die bosbok? Selfs ’n groep ekologie-studente het gesukkel! Op skool en as kind leer ’n mens meer oor groot, beroemde diere, soos die Groot Vyf. So, ek wou al lankal ’n kinderboek doen wat met ál Suid-Afrika se soogdiere spog – insluitende die minder bekendes, soos die bosvark, grysbok en ons hordes verskillende muishonde.
Watter muishond is jou gunsteling?
Beslis die dwergmuishond, Afrika se kleinste jagter. Vol persoonlikheid en vol planne.
Hoe lank vat so ’n projek?
Dit was amper ’n jaar se werk, maar net deeltyds. (Ek werk voltyds by Struik Nature, waar ek veldgidse redigeer en uitlê, soos Spiders of South Africa en Proteas of the Fynbos.) Wat die langste gevat het, was die foto-navorsing, want jy soek lekker aksie-belaaide foto’s wat interessante gedrag uitbeeld: sebra-hingste wat baklei, mamma-leeus wat welpies versigtig ronddra, olifante wat in die water snorkel . . .
Wat kom eerste, die prentjies of the woorde?
Vir my, die prentjies. Ek is ook ’n uitlegkunstenaar, en het die boek eers ontwerp en met dummy teks uitgelê voordat ek die teksblokkies ingevul het. Ek het ’n spesieslys van Afrika-soogdiere byderhand gehou om seker te maak dat elke diertjie sy kans in die kollig kry – selfs die molle en rotte.
Wat kom volgende?
Voëls is volgende in die Safari-boekreeks, dan reptiele. Dan het ek ook pas twee storieboeke by LAPA uitgegee, oor Jorsie die Worsie, ’n klein worshond wat ’n polisiehond wil wees.