
Globale Kundigheid Ontmoet Plaaslike Innovasie by die IMPACT Oop-Lug Laboratorium
Na die bekendstelling van die IMPACT OAL (Intensiewe Monitering van Aangeplante en Mededingende Bome Oop-Lug Laboratorium) deur die Hans Merensky-leerstoel in Gevorderde Modellering van Eucalyptus-Houtvorming (EucXylo), onder leiding van Prof. David M. Drew, het hierdie vlagskip-navorsingsplantasie ‘n gereelde spilpunt geword vir besoeke deur belanghebbendes, medewerkers en ander belangstellendes. Onlangs is twee internasionale gaste by die IMPACT OAL verwelkom: Dr Sam van Holsbeeck vanaf die Sunshine Coast Universiteit in Australië, en Prof Ben Spong vanaf Wes Virginia Universiteit, VSA. Prof Spong is vergesel deur drie entoesiastiese voorgraadse studente — Maddy, Jimmy en JJ — wat die geleentheid gehad het om bosbou-innovasie eerstehands te beleef.
Dr van Holsbeeck, ‘n spesialis in geïntegreerde plaag-, siekte- en onkruidbestuur in bosbou, en Prof Spong, ‘n kenner in bosbou operasies, het met navorsers en studente by die IMPACT OAL in gesprek getree om gevorderde tegnologieë vir intensiewe boommonitering en dataversameling te verken.
Hul besoek het ‘n waardevolle platform geskep vir kennisuitruiling en het aanleiding gegee tot betekenisvolle gesprekke oor die huidige uitdagings en innovasies in die bosbou-wetenskappe. Dit het ook die belangrikheid van wêreldwye samewerking in die bevordering van volhoubare bosbestuur beklemtoon.
Die EucXylo-span het hul opgewondenheid uitgespreek oor die vooruitsigte van voortgesette samewerking met beide Dr van Holsbeeck en Prof Spong, en sien daarna uit om op hierdie momentum voort te bou en internasionale navorsingsbande in die toekoms te versterk.