Konstruksie van die Hortgro Fitosanitêre Laboratorium (of kortweg PHYLA) nader voltooiing. Wanneer dit eers voltooi is, sal PHYLA dien as basis vir broodnodige navorsing oor hoe om peste en plantsiektes wat van fitosanitêre belang is vir die Suid-Afrikaanse sagtevrugte-uitvoerbedryf ten beste te bekamp.
Die projek word befonds deur die sagtevrugtebedryfsliggaam Hortgro.
Universiteit Stellenbosch (US) entomoloë dr. Shelley Johnson en dr. Renate Smit is aan die hoof van PHYLA. Albei is fitosanitêre deskundiges wat deur Hortgro gesekondeer is aan die US Departement Bewaringsekologie en Entomologie.
PHYLA word ingerig in ‘n gebou by die US Fakulteit AgriWetenskappe se Welgevallen Proefplaas.
“PHYLA se werk sal die sagtevrugtebedryf se pogings steun om vrugte te kan uitvoer wat in lyn is met markvereistes. Die fasiliteit sal gebruik word om nuwe opsies wat fitosanitêre maatreëls verbeter, te toets, en om metodes goed te keur wat elders ontwikkel is en ook van nut kan wees vir plaaslike produsente en pakhuise,” sê dr. Johnson.
“Daar is voortdurend nuwe uitdagings en nuwe peste wat hanteer moet word,” voeg sy by.
Volgens dr. Johnson behels die versekering van kwaliteit fitosanitêre maatreëls deesdae baie meer as net om seker te maak dat ongewenste insekte nie saam met uitvoervrugte verskeep word nie. Behandelings moet ook omgewingsvriendelik wees en belyn wees met die spesifieke vereistes van verskillende uitvoermarkte in byvoorbeeld die Europese Unie en Asië.
“Ons sal geïntegreerde navorsing doen wat die beste manier om insekte te dood sowel as vrugte-kwaliteit in ag neem.”
Die fasiliteit sal die werk wat dr. Johnson se navorsingspan reeds sedert 2006 doen aanvul. Dit sluit navorsing oor berokingstudies, koue sterilisasie-behandelings en die gebruik van etielformaat in.
Die gebou wat PHYLA sal huisves was voorheen ’n skaapskuur op die proefplaas, en is later omskep in ’n insek-huis as deel van ’n navorsingsprojek oor pesbestuur. Die insek-huis word vir gebruik deur PHYLA.
Die meeste binnemure is reeds verwyder, die vloer is gelig en ’n betonvloer is gelê. Nuwe muurpanele is bygevoeg om interne kamers te vorm wat gebruik sal word as laboratorium- en navorsing-ruimtes.
“As deel van die opknappingswerk word laboratoriumspasie omskep in drie koue kamers en een berokingskamer. Dit is geïnstalleer volgens bedryfspesifikasies,” sê PHYLA se fasiliteitsbestuurder, dr. Smit. Sy is ’n US alumnus wat in 2019 haar PhD voltooi het oor onder meer onlangse fitosanitêre opsies, insluitend etielformaat.