Die Fakulteit AgriWetenskappe by Universiteit Stellenbosch (US) word op nasionale en internasionale vlak hoog aangeskryf vir kwaliteit opleiding en navorsing, en ook as konsultant in die landbou- en bosboubedryf. Studente wat vir die voor- en nagraadse programme by die Fakulteit ingeskryf is, word uitstekend opgelei om leiers en bestuurders in verskillende sektore van die bedryf te word. Dwarsdeur die RSA – en oorsee – word alumni van die Fakulteit in top posisies aangetref.
Toe US amptelik gestig in 1918 is, was Landbou een van die eerste vier fakulteite en het van die begin af ’n onuitwisbare bydrae tot landbou-onderrig en -navorsing in Suid-Afrika gelewer. In 2006 het die Fakulteite Landbou en Bosbou saamgesmelt om die Fakulteit AgriWetenskappe te vorm soos dit vandag is. Die Fakulteit het ongeveer 1000 voorgraadse en 597 nagraadse studente, en 210 akademiese personeel.